Die idee agter die voorskoolse Letters

Ek loop reeds jare rond met ‘n begeerte om ‘n Afrikaanse “Easy Peasy” daar te stel. Uiteindelik het die tyd aangebreek vir hierdie droom om ‘n werklikheid te word!

Die Voorskoolse letters moet bo  alles die naam van “Lieflik en Loflik” onderskryf. Ek wil hê die kind moet op een of ander stadium sê : “Hierdie is so mooi mamma!” Ek het ‘n dringende begeerte om ons kinders van jongs af aan die mooi in die lewe bloot te stel – en ek hoop om dit deurgaans te kan deurdra in elke program wat ek bekend stel.

Hierdie is ook ‘n geïntegreerde program. Nie net poog ek om verskillende mediums te gebruik om leer vas te lê nie , ek probeer soveel as moontlik assosiasies daar stel as “hakkies” waaraan alle ander inligting gehak kan word. Ek wil ook in elke program die sintuie soveel as moontlik stimuleer om te help met sensoriese integrasie probleme en poog ook om aktiwiteite in te sit wat gewoonlik sal deel uit maak van spraak terapie of arbeids terapie. Hierdie is dus ‘n program wat die “hele” kind aanspreek.

Natuurlik moet dit ook pret wees om Letters te leer! Ek hoop die aktiwiteite, liedjies , stories en meer gee vir mamma en kind iets om oor te glimlag en skep tussen julle ‘n band van liefde en geluk in mekaar se teenwoordigheid. Soos Ambleside International sê : “ Is it good to be me , here with you?”

Baie van die materiaal wat gebruik word is vrylik op die internet beskikbaar – ek verpak dit net sodat dit meer toeganklik is vir die gebruiker. Daar is ook materiaal betrokke wat ek self ontwikkel het. Die hele webtuiste is onder kopiereg en dus sal ek gebruikers se respek vir hierdie feit waardeer.

Daar is baie liefde en sorg in hierdie program ingesit en ek hoop dat dit sal deurskemer na my gebruikers toe.

Mag julle geseën word deur die gebruik van hierdie program!

Lieflik en loflike groete

Louise